2017 ‘n Onvergeetlike jaar!

Kruinsig spog met twee pragtige kore. Die Junior Koor (Gr 1-3) staan bekend as die Kruinie Warriekoor en die Senior Koor (Gr 4-7) is die Kruinsig Kinderkoor. Ongeveer 160 Kruinies kry elke jaar kans om deel van die Kruinie Kore te wees en Ja! Dis Sang en Musiek met lekkerkry. Wanneer ons met ‘n nuwe koor begin kan mens skaars glo dat jou tone uiteindelik sal omkrul en die hare in jou nek sal regop staan wanneer ‘n Kruinie Koor opstap.

Van Oktober 2016 af is daar hard gewerk, baie geoefen by die skool en by die huis, om elke noot perfek te kry. Stilstaan en ‘kyk vir juffrou’ en die groot woorde: Ek het ‘n brein in my kop, ek het voete in my skoene, ek kan self! Mettertyd begin die reuse koorspanne saamwerk. Ouers spring in en help, Koordrag word aangepas en uitgedeel en die gees groei en groei.

Die eerste kompetisies is sommer vroeg in Meimaand en dis ‘n gesukkel om betyds reg te wees vir Super 12 en ATKV APPLOUS, Singit en Sing in Harmonie. Uiteindelik presteer die Kruinie Kore verwoestend! Meesal wen ons, soms verloor ons en ja, dis ook ‘n lewensles.

2017… Cum Laudes by Super 12, Goud by ATKV APPLOUS, 2e en 3e Plekke by Singit en altwee kore in die REUSE Sing in Harmonie Finaal. Ons Kore se dissipline… onverbeterlik. Het jy al 90 kinders in een lang ry sien stap, armspasies uitmekaar, doodstil, selfs wanneer daar niemand is wat kyk nie? Het jy al ‘n groot groep soos ons kore sien stilstaan in die donker agter die verhoog? Dis iets om te belewe.
Die Senior Finaal was iets vreesliks… met skole van Newcastle, Rustenburg, Middelburg, Pretoria, Kaap en Gauteng. Al wat ek weet is ons koor was fantasties en ek sal op Televisie moet kyk en luister waar die foutjies was, want hulle was regtig puik!
In die Junior Afdeling 17 Kore, ook van oral af, en wen die Warries met .2%. Sowaar WOW! Amper sluk ek ‘n leë bottel water heel in.

Ons jaar is so amper verby, die Warries se skaatsafsluiting was vrek lekker en die Senior Koor se Sun City Afsluiting sal soos altyd baie lekker wees.

Net een kompetisie lê nog voor vir die Warriekoor en dis die KYKnet NOU se Sing in Harmonie… WENNERS teen WENNERS wat regstreeks van Centurian af uitgesaai word op 21 Oktober van 15:00 – 17:00. Net skole wat al Sing in Harmonie gewen het is daar en omdat die Warries 2016 en 2017 gewen het gaan die skool wat met .2 % tweede gekom het hierdie jaar ook deur. Oi! Ek dink daar word geoefen!

Share This